Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS – SONDAG 9 JANUARIE 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat aangekondig word dat die sleutels van twee radioamateurs onlangs stil geraak het. Hulle is:

Flip Louw, ZS6BSI, broer van Willem, ZS6BPD, vroeg Maandag 3 Januarie. Flip laat sy eggenote Poppie agter.
J Theron, ZS6JMT, van die Oos-Randse Radioklub, op 2 Januarie 2011 in Springs.

Ons innige simpatie gaan aan die oorledenes se familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

WORD LID VAN SARL VIR NET R200

SA AMSAT CUBESAT-PROJEK BENODIG PROGRAMMEERDERS

AKTIWITEITSOGGEND VIR AMATEURS BY NARS

GASHEER GESOEK VIR AMATEURRADIOSTASIE BY SUN CITY

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

WORD LID VAN SARL VIR NET R200

Ons nooi nie-lede om ses maande se SARL-lidmaatskap vir net R200 uit te neem. Alle nuwe aansoekers sal ook die November/Desember-uitgawe van Radio ZS ontvang. Laai aansoekvorms af van www.sarl.org.za. Aansoeke word vanaf 12 Januarie verwerk wanneer die nasionale kantoor heropen. Persone wie se huidige lidmaatskap nie hernu is nie, is uitgesluit van hierdie aanbod.

Alle aansoeke wat teen 15 Januarie 2011 ontvang word, kom in aanmerking vir die lidmaatskap-gelukstrekking. Die pryse is twee 2011/2012 SARL-lidmaatskappe. Die trekking vind op 15 Januarie om twaalfuur by die NARS plaas. Stuur u aansoeke in of bring hulle op Saterdag 15 Januarie 2011 saam.

SA AMSAT CUBESAT-PROJEK BENODIG PROGRAMMEERDERS

Die ontwikkelingspan vir die beoogde Suid-Afrikaanse CubeSat-projek is mooi op dreef. Amateurs van oral met ’n verskeidenheid spesialisvaardighede bied hulle dienste aan. "Ons soek egter steeds iemand met ondervinding van programmering van PIC’s of 8051-mikroprosesseerders," sê Hannes Coetzee, ZS6BZP, aan SARL-Nuus.

“Hierdie persoon sal ’n kritieke lid van die span wees en sal die ontwikkeling van die aanboord-kontrolesagteware hanteer. Ander amateurs wat in die ontwikkeling van die satelliet belangstel en by die ontwikkelingspan wil aansluit, kan nog hul amateur-CV’s stuur na saamsat@intekom.co.za,” sê Hannes.

’n Informele bespreking vind Saterdag 15 Januarie om 10:00 plaas by die NARS, tydens die SA AMSAT-satellietforum. Die span se eerste formele telekonferensie vind Woensdagaand 26 Januarie 2011 om 20:00 plaas. Spanlede sal formeel daarvan in kennis gestel word. Eddie, ZS6BNE, sal wys hoe bou mens ’n eenvoudige satellietantenna.

AKTIWITEITSOGGEND VIR AMATEURS BY NARS

’n Aantal gebeurtenisse vind Saterdag 15 Januarie 2011 van 10:00 af by die NARS plaas. Afgesien van die Satellietforum kan u ook die Ruimteweermonitor kom besigtig of D-Star-kommunikasie kom beproef op die D-Star-herhaler wat by die NARS geïnstalleer word. ’n Aantal boeke oor amateurradio sal ook te koop wees. ’n Lys van die beskikbare boeke is te sien by www.amateurradio.org.za/books.htm. U kan boeke aanlyn bestel en betaal en Saterdag by die NARS afhaal, of in kontant daar betaal. Geen kaartgeriewe is vir boekverkope beskikbaar nie.

As u nog nie lid van die SARL is nie, gryp die kans om vir R200 lid te word en skryf in vir ’n kompetisie waarin gratis lidmaatskappe gewen kan word.

GASHEER GESOEK VIR AMATEURRADIOSTASIE BY SUN CITY

Radioklubs word genooi om voorstelle in te dien vir die opstel van ’n HF- en BHF-amateurradiostasie by die konferensie van die IARU Streek 1 by Sun City. Die konferensie vind van 11 tot 19 Augustus plaas en afgevaardigdes kom op 12 Augustus aan. Die spesiale roepsein is ZS11IARU en is vir daardie week van krag.

Die gasheerklub voorsien ’n draagbare toring met ’n HF-rigstraler met ’n roteerder en kabels, omgekeerde V-antennas vir 40 en 80 meter, 70 cm- en 2 m-antennas, en minstens een voltydse operateur om toesig te hou. Alle afgevaardigdes wat in hulle eie lande gelisensieer is, verkry outomaties toestemming om uit te saai terwyl hulle in Suid-Afrika is vir die konferensie. Radiotoerusting word verskaf indien verlang.

Volle losies en verblyf vir twee mense wat deel, word tydens die konferensie verskaf.

As u klub kans sien vir die projek, e-pos julle voorstel na iaru2011@sarl.org.za teen 28 Februarie 2011. Gee besonderhede van hoe julle die projek sal hanteer, die ondervinding van die operateur of operateurs en van die persoon wat oor die projek toesig sal hou.

KOMPETISIENUUS

Port Elizabeth-amateurradiovereniging se nasionale BHF/UHF-kompetisie vind van 21 tot 23 Januarie 2011 plaas. Dit is oop vir alle gelisensieerde amateurs in Suid-Afrika en sy buurstate Namibië (V5), Botswana (A2), Zimbabwe (Z2), Mosambiek (9), Lesotho (7P) en Swaziland (3DA). Slegs kontakte met hierdie state is geldig.

Die doel van ’n BHF/UHF-kompetisie is om talle langafstandkontakte te maak, nuwe rekords op te stel, verbeterings aan toerusting aan te moedig en pret te hê. Dit is ’n 44-uur-dubbelkompetisie vir digitale en analoogmodus. Amateurs word versoek om indien moontlik aan albei kompetisies deel te neem en so die bande aan die gang te hou. Deelnemers kan op 6, 4 en 2 meter werk en ook op 70 en 23 cm, met FM-, enkelsyband- en digitale modusse.

Die eerste 22-uur-lopie van die BHF/UHF-kompetisie begin om 18:00 SAT op Vrydag 21 Januarie en sluit om 16:00 SAT op Saterdag 22 Januarie. Die tweede 22-uur-been begin om 16:01 SAT op Saterdag 22 Januarie en eindig om 14:00 SAT op Sondag 23 Januarie.

’n Geldige kontak bestaan uit die uitruil van roepseine, seinverslae en ligging, soos die sessyfer Maidenhead-ruitverwysing of -koördinate. U kan deelneem as Basisstasie, Veldstasie, Klub- of Multioperateurstasie of ’n beperktekategoriestasie. Die volledige reëls is vervat in die 2011 SARL-kompetisiehandleiding en op PEARS se webwerf by www.zs2pe.co.za/Contests/vuhf.htm.

SARL SE 80 METER-KLUBKOMPETISIE

Net vier logstate is ontvang vir die November-been van die SARL se 80 meter-klubkompetisie. Die Antiekeradiovereniging het twee logstate en 12 punte aangebied, en eerste gekom. Die Wes-Randse Amateurradioklub het twee logstate met 10 punte aangebied.

Die eindresultate vir al ses bene is: 1ste Wes-Randse ARK, 341 punte en 32 logstate; 2e ZS-kompetisiegroep, 186 punte en 7 logstate; 3e Antiekeradiovereniging, 166 punte met 15 logstate.

SARL SE NASIONALE VELDDAG

Die kompetisiekomitee het 19 logstate ontvang vir die SARL se Nasionale Velddag in November, opgemaak uit twee enkeloperateurs, 11 multioperateurs en ses algemene stasies. Die resultate is soos volg:

Enkeloperateur
1e Johan de Witt, ZR5JF, 17 520 punte
2e Eddie Leighton, ZS6BNE, 6 075 punte

Multioperateur
1e Wes-Randse ARK, ZS6WR, 72 180 punte
2e Sasolburg ARK, ZS4SRK, 71 060 punte
3e Sandton ARK, ZS6STN, 65 900 punte

Algemeen
1e Philip Esterhuizen, ZS4PJ, 62 010 punte
2e Pierre van Deventer, ZS6BB, 50 112 punte
3e Anton de Beer, ZR6ATN, 22 752 punte

Die volledige en gekombineerde resultate verskyn vandeesweek in HF Happenings.

KOMPETISIE VIR JONG AMATEURS

YACHT, die kompetisiespan vir jong amateurs, nooi weer alle Suid-Afrikaanse amateurs, veral die jonges, om deel te neem aan hulle weeklikse Jeug-tafelronde via Echolink. Die nuwe tyd vanaf 9 Januarie is 21:00 SAT op Sondae, Echolink-nodus 481872, van die W8PIF-herhaler in Menominee, Michigan.


VOORTPLANTINGSVERSLAG

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat sonaktiwiteit steeds op lae vlakke is. Sonvlek 1 140 en 1 142 is nog sigbaar hoewel Sonvlek 1 142 besig is om vinnig te vervaag. Die effektiewe sonvlektelling sal vandeesweek na verwagting minder as 25 wees.

15 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 20 m. Smiddae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Smiddae gaan toestande eers op 15 m en dan later op 20 m na Europa toe bruikbaar wees. Kontakte met die VSA is op 15 m gedurende die vroeë aand moontlik. Kontakte met Australië is met sonop en smiddae op 20 m moontlik. 15 en veral 20 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15 en 20 m-openinge gaan 17 m vol verrassings wees.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 20 en 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer. 80 m is op sy beste vroeg soggens en laat smiddae en ook oor korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

15 Januarie – Sattellietforum en ander aktiwiteite by die NARS begin om 10:00.
20 Januarie 2011 – Sluitingsdatum vir indiening van aansoeke vir die RAE-beurse vir Mei 2011. Besoek www.amateurradio.org.za vir aansoekvorms.
20 Januarie – Sluitingsdatum vir indiening van voorleggings en samevattings van referate vir die 2011 SA AMSAT-ruimtesimposium by saamsat@intekom.co.za.
20 Januarie – Cubesat se projekspan se telekonferensie om 20:00.
21/23 Januarie – PEARS se BHF/UHF-kompetisie.
30 Januarie 2011 – Sluitingsdatum vir fase 1 van die konstruksiekompetisie.
28 Februarie – Laaste dag om aanbiedings om ’n stasie tydens die IARU Streek 1 konferensie by Sun City op te rig en te bedryf in te stuur na iaru2011@sarl.org.za.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin wat deur Hester van der Walt saamgestel en George, ZS6NE, nagesien is.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003